Welkom



Die jaar 2011 met sy moontlikhede en uitdagings wag vir ons. Vir ons gemeente is dit 'n besondere jaar wat voorlę en ons nooi elkeen wat met ons waardes kan assosieer hartlik uit om hande te vat en as geloofsgemeenskap saam die geloofspad te loop. As gemeente het ons gekies om vernuwend met God se roeping vir ons hier in Panorama om te gaan. Daarom is ons daarop ingestel om op 'n vars manier te hoor wie die Jesus is wat ons roep om saam met Hom – die Weg, die Waarheid en die Lewe – te ontdek wat die wil van God is en wat vir Hom goed, aanneemlik en volmaak is (Rom 12:2).
Ons wil 'n veilige ruimte wees waar mense God opnuut kan ontdek – ook fasette van God wat ons nie vantevore geken het nie – en waar lidmate hulself kan verbind om saam met ander gelowiges hul gawes uit te leef deur diensbaar te wees en ook waar elke lidmaat uitgenooi en toegerus word om in sy/haar gesin, familie, vriendekring, gemeenskap en werkplek te demonstreer hoe die lewenstyl van dissipelskap lyk. Indien jy kans sien vir die uitdaging om 'n dissipel van Jesus te wees en die risiko te neem om jouself volledig vir Hom te gee – want dit is 'n waagstuk – kan jy verwag dat God jou in sy geheime gaan inlei (Jer 33:3), dat Hy 'n groter werklikheid in jou verhoudings gaan wees en dat jy wysheid sal hę in situasies wat soms voel asof dit met jou wil weghardloop.
Ons hoor dat die Here deur sy Woord en Gees aan ons die volgende roeping gee: God roep en vernuwe ons om Hom, mekaar en die węreld met ons genadegawes te dien. Met hierdie roeping in gedagte, het ons die volgende fokusareas geďdentifiseer om ons te help om te fokus op dit waarmee ons glo ons besig moet wees:
  • Aanbidding: Om saam op God gerig te wees deur eredienste, lof en aanbidding.   
  • Diens: Om mekaar en die gemeenskap diensbaar te wees, te ondersteun en aan te moedig.
  • Getuienis: Om God se liefde na die węreld uit te dra, byvoorbeeld deur middel van uitreike.   
  • Koinonia: Om gemeensaamheid onder mekaar aan te moedig in byvoorbeeld kleingroepe en wyke.
  • Toerusting: Om elke lidmaat toe te rus om geestelik te groei om sy/haar gawes beter te kan uitleef.
As rigtingswysers het ons die volgende waardes geďdentifiseer:
    Deursigtigheid: Ek kommunikeer en leef vrylik en hou altyd almal wat betrokke is, ingelig.
    Geroepenheid: My getuienis in en aan die węreld wys dat ek die Here se wil in my lewe ken. Ek leef in volle oorgawe aan die Woord van die Here en is altyd diensbaar.
  • Integriteit: Ek is eerlik, opreg en betroubaar in my uitlewing van die waarheid.
  • Leerbaarheid: Ek is bereid om na God en ander te luister en my te laat leer, bewus daarvan dat ek nie alles weet nie en ook aanpasbaar moet wees.
  • Liefde: Ek weerspieël 'n besonderse gevoel van aanvaarding, dankbaarheid en aangetrokkenheid teenoor God, sy koninkryk en andere en wys dit deurentyd.   
  • Nederigheid: Ek leef die voorbeeld van Jesus met 'n sagmoedige hart uit in my diensbaarheid aan ander.
  • Uitnemendheid: Ek streef altyd om optimaal te presteer, asook om my Godgegewe gawes ten beste te ontwikkel en aan te wend in sy diens en die uitdagings wat Hy op my pad plaas.
Laat die rigting en roeping van ons gemeente jou hart vinniger laat klop? Dan is Parow-Panorama die gemeente vir jou!
Mag die Here jou verras deur ook op die mees onverwagte tye en plekke op te daag!





 

 
 
 
NG Kerk Parow-Panorama